Ephesus - Afrikaans

ÉFESE

Jakob Prasch se boek: “The Dilemma of laodicéa” bespreek die Sewe letterlike Kerke van Openbaring 2-3 wat gedurende die eerste eeu in die tyd van Johannes bestaan het.

Dit is ook sewe tipe kerke wat in enige tydperk van die Kerk geskiedenis kan bestaan; sewe algemene opvolgende tydperke van die kerk geskiedenis wat in die Laaste Dae tot en met die Wederkoms van Jesus sal bestaan.

Uit dit leer ons nie net ‘n les oor die kerk geskiedenis nie maar dit gaan ook oor hoe die geestelike patrone van elke kerk ‘n groter beeld en ook ‘n vooruitskouing is van die finale vervulling daarvan in die Laaste Dae soos in die karakter van Jesus se eie beskrywing van geboorte pyne. Hierdie boek is ‘n uitstaande hulpmiddel vir enige kerk of kerklike organisasie om hulle eie geestelike karakter op ‘n Bybelse basis te ondersoek.

Elke eeu van die Kerk word deur al sewe kerke verteenwoordig, nie net hulle unieke krag en swakhede nie, maar dit is ook ‘n beeld van hoe elke kerk reageer op geestelike aanvalle wat hulle goeie dade wil ondermyn. Omdat elke kerk in die Laaste Dae in die lig gebring sal word is dit belangrik vir elke Christen om te verstaan hoedat alles wat met hierdie sewe kerke in die geskiedenis gebeur het ook ‘n beeld is van wat vandag voor ons oë in die kerke wêreld afspeel.

- - - ÉFESE- “NIE VOORTDUREND”

--- Eerste eeu- “Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese:

Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars: Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.

Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.

Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.” (Op. 2:1-7)

Die Éfese Eeu.

Efese verskil van die ander ses uit die sewe kerke omdat daar verwys word na die Apostoliese of die Efese eeu van die kerk tot en met die einde van die eerste eeu n.C. Let op dat in teenstelling met die ander ses kerke het dit geen toekomstige toepassing in ‘n ander eeu nie, hetsy in enige primêre of profetiese hoedanigheid, alhoewel die beginsels waarmee Christus beide aanbeveel en goedkeur van toepassing is op alle kerke in al die eeue. Die oorspronklike tyd raamwerk van Efese is die eeu waarin die kerk bestaan en wat Johannes gesien het. (Die skrywer glo aan ‘n klasieke Johannes outeurskap, maar die redes word nie hier bespreek nie.)

Éfese, ‘n Groot Stad-

Vandag is Efese ‘n Moslem dorp met die naam van Selsuk, ‘n gewilde plek om te besoek. Volgens tradisie en ‘n Evangeliese argeoloog uit die Verenigde State is dit die plek waar Johannes begrawe is na sy terugkeer van die eiland Patmos waar hy ‘n gevangene was.

Efese word in Johannes se brief beskryf as ‘n kerk met spesiale lamp- kandelaar- tussen die ander sewe goue kandelare wat nie een van die ander kerke gehad het nie, (Op.2:5) en as gevolg van die kerk se apostoliese assosiasies en sy Joodse wortels en vermoë om die Joodse Skrifte in hulle oorspronklike Joodse perspektief te verstaan, kon hierdie kerk dinge sien wat die ander kerke nie kon sien nie. Maar hierdie lamp of kandelaar is weggeneem. As jy vandag Efese of die dorp Selsuk besoek sal jy daar nie eers ‘n nominale Christen en nog minder ‘n weergebore Christen kry nie. Besoekers kan die bouvalle van die Tempel van Artemis bekyk, dit is waar die onluste in Paulus se bediening plaasgevind het. (Hand. 19:23-4)

Daar is plek wat geken word as “Maria se Huis” wat volgens die tradisie van die Griekse Ortodokse kerk die aftree plek van Maria en die apostel Johannes was. Vir £20 kan jy ‘n persoonlike toer reël. Maar alhoewel hierdie plek met Petrus en Paulus, Barnabas en Johannes en later met Polycarp verbind word- almal pilare van die Kerk- is daar vandag absoluut niks van enige vorm van Christelikheid te vinde nie. Dit is verstommend dat so iets in ‘n plek met so baie herinneringe aan God se Waarheid kon gebeur, hierdie geskiedenis het prakties oornag niks van geword nie.

In ongeveer 96 n.C. het Johannes die Boek Openbaring geskryf en in hierdie tyd was Efese die grootste hawe in Asië en alhoewel Pérgamus die hoofstad van die provinsie van Asië was het Efese die grootste populasie gehad- ongeveer 250,000 mense. Efese was na Rome, Alexandrië en Antiogië die vierde grootste stad in die Ryk. Daar was paaie vanaf Kolosse, Laodicéa en Galásië na die Mediterrane, en na Efese via Sardis, dus was Efese die snelweg na Rome. Efese het gespog met fabelagtige argitekture en spoggerige paaie en dinge soos ‘n 70 voet breë pad tussen boom lanings wat na die hawe toe geloop het.

Efese het ook ‘n teater met 25,000 sitplekke gehad en die Tempel van Diana (Artemis) was ook daar wat ook beskou was as een van die sewe wonders van die outydse wêreld. In die geheel gebou met marmer was dit die grootste gebou in die hele Griekse wêreld. 36 van sy 127 sestig voet hoë pilare was met goud oorgetrek, uitermatig weelderig vir die mense van daardie tyd.

Die beeld van Artemis in die teater was ‘n squat, ‘n swart veelborstige figuur, ‘n weelderige standbeeld wat in die Vatikaanse museum gesien kan word. Die beeld lyk baie soos die beelde van Maria, die moeder van Jesus. Wat ‘n feit is, is dat die Raad van Efese in die vyfde eeu hierdie Maria as die “Koningin van die Hemel” en die “Moeder van God” verklaar het, wat ‘n navolging is van die heidense aanbidding van Diana van Efese, ten spyte daarvan dat die Griekse term “Theotokos”- “Moeder van God” op geen plek in die Nuwe Testament gevind kan word nie. Lees Handelinge 15 en let op hoe heilig Artemis vir die Efésiërs was.

Hierdie selfde stad wat so intens geïdentifiseer was met die apostoliese kerk het later fundamenteel die heidense basis geword wat gesien het hoedat die hoofstroom Christendom verander het in ‘n heidense politieke Christendom.

Daar was ook tempels van keisers soos Claudius, Nero en Domitian, met ‘n standbeeld van Domitian wat vier keer groter was as normaal wat hom uitgebeeld het as Zeus- die heerser van die gode. ‘n Reuse voorarm van die beeld kan in ‘n museum gesien word.

Later toe Christene vanaf Asië ingebring was om in Rome vir die leeus gegooi te word, het Ignatius (c.35-c.110) die derde “Biskop van Antiogië”- wat self gemartel was, Efese die “Snelweg van die Martelare” genoem.

In die tyd van Keiser Domitian Pliny (c.61—c. 113) was daar gekla oor Domitian wat aangespreek was as: “Dominus et Deus Noster”— dit is: “Ons Here en ons God.” Die digter Staius het hom die “môrester” genoem, ‘n titel van die Here Jesus in die Bybel, alhoewel Lucifer ook geken wil word as die môrester. Vir hierdie rede het Domitian, wat ook gesien word as ‘n tipe van die Antichris, ‘n verpersoonliking van die duiwel- die Christene wreed vervolg.

Wat interessant is, om Domitian se aanspraak reg te stel, sien ons in die Evangelie van Johannes dat Thomas die Here Jesus aanspreek as: “My Here en my God” (Joh. 20:28) verder sien ons ook in die Openbaring van Jesus- die Here se laaste woorde: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.” (Op. 22:16)

Daar was baie tekens van die einde van hierdie eeu in die eerste eeu. Toe Jakobus gemartel was het Simeon die senior pastoor van die Kerk in Jerusalem geword. Hy het onthou wat Jesus gesê het en hy het die gelowiges uit Jerusalem na ‘n plek wat Pella genoem was gelei. (Josephus) Al die gelowiges was gered omdat hulle gevlug het toe hulle die vervulling van al die tekens gesien het, dinge soos die tydelike onttrekking van Romeinse mag uit Jerusalem.

Maar die Jode wat agtergebly het met die besetting van Jerusalem deur Titus in 70n.C., het deur ‘n verskriklike groot verdrukking gegaan, hulle het mekaar se babas geëet- wat ook ‘n vervulling was van die waarskuwings in Deut. 28. Dit het voorheen ook gebeur toe Jerusalem deur Nebukatnessar beset was. (Eseg 5:10) Dit is ook ‘n beeld van wat weer gaan gebeur net voor Armageddon.

Vervolging.

Die keiser het mense verplig om hom op die dag van die Here te aanbid - (Op.1:10) een dag per jaar. Baie Christene het geweier om vir ‘n valse god te buig. Petrus en Paulus is doodgemaak en Rome was afgebrand. Dit is ‘n beeld van die twee martelare in Op. 11, ‘n woord wat ook “getuienis” beteken. Hierdie dinge wat werklik gebeur het is dinge wat weer aan die einde van die eeu gaan gebeur, dit is ‘n skaduwee van die finale vervulling wat kom. Efese as die middelpunt van Heidense aanbidding gee vir ons ‘n baie duidelike beeld van die vervolging wat in die Laaste Dae gaan kom.

In die promenade wat na die Agorra (mark) geloop het was daar ‘n hek met oorhoofse kennisgewing wat die keiser vereer het as die seun van god, dus om te koop en te verkoop moes daar ‘n de-facto (as werklik bestaande) erkenning van die godheid van die keiser wees.

Die Christene wat dit nie wou doen nie was uit die kommersiële lewe van die stad uitgesluit en hulle kon nie koop en verkoop nie. Meer nog, hulle was aan beide kante van die straat aan pale wat na die promenade gelei het vas gemaak en aan die brand geteek om as menslike straatligte te dien. Dit is ‘n skaduwee van wat die Antichris in die Laaste Dae kan doen, hy gaan mense se kapasiteit om handel te dryf verbind aan ‘n onuitgesproke erkenning van sy god status.

Voor die bestaan van denominasies was daar ‘n graad van eenheid in die kerk wat deur vervolging ontwikkel het, in die Laaste Dae gaan dit weer gebeur. In die vroeë kerk was daar baie gepraat oor die Laaste Dae. “Wanneer gaan Hy kom?” Dit is waarna Christene uitgesien het, en as dit nie gebeur het nie het mense moed verloor. Maar Jesus het deur Sy engel gesê: “Hy wat oorwin...wat volhard tot die einde...” (Op. 2:26) “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser?, (Op. 6:10) “--en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.” (Op. 6:11).

Dit is ‘n vreeslike gedagte, maar net soos wat daar in die vroeë kerk ‘n ernstige vervolging was, so sal dit in die Laaste Dae weer wees. Kyk wat gebeur vandag met Christene in Sjina of Noord Korea? Rome onder die keiser Nero het Christene verbrand—burgers van sy eie koninkryk! - En in die 16de eeu het die Roomse Kerk sy eie mense gebrand omdat hulle die Bybel gelees het. Die Laaste Dae gaan inderdaad ‘n groot lydsaamheid en geloof van die heiliges vra. (Op. 13:10)

Jesus die Hoë Priester

“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het--” (Op. 1:1) (God het dit vir Jesus gegee.) “Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.

En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.” (Op. 1:12-16

Let op Jesus verskyn geklee as die nuwe Hoë Priester wat die Joodse Hoë Priester van Eksodus 29 vervang. Die Hoë Priester was met bloed ingeseën en hy het ‘n spesiale kleed aangehad, maar sy seëninge en roeping was na sy seuns oorgedra. onthou Jesus is nou die Hoë Priester.

En net soos wat die seuns van Aaron priesters was wat die bediening van Aaron uitgedra het- so is alle volgers van Jesus priesters van Hom wat die Hoë Priester is. Meer spesifiek, Dit is ‘n priesters se bediening om offers te bring en vir mense in te tree. Volgens 1 Petrus 2:9 is alle gelowiges priesters. Daar bestaan nie iets soos ‘n Christen wat nie ‘n priester is nie, iemand wat nie ‘n priester is nie- is nie ‘n Christen of ‘n prediker nie. Priester beteken “dienskneg”. Die idee van ‘n geordende ‘Priester’ onder die Nuwe Verbond is uit en uit ‘n menslike uitvindsel, daarom is die hele debat oor vroue “priesters” ‘n hoop strooi. Hoedat ‘n hele instelling kan verdeel oor iets wat geen Bybelse basis het nie- is verstommend.

“--en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel.” (Op. 1:13)

Jesus se voorkoms in Openbaring is ‘n beeld van die kleed van die Hoë Priester. Hy moes ‘n tipe van die borsplaat op Sy skouers dra en ‘n kleed wat Hy nie mag uittrek nie. Die kleed verteenwoordig die Kleed van saligheid. Die Mormone dra ‘n soort onderklere wat hulle nooit uittrek nie en die pous dra ‘n soort voorskoot of onderhemp (Scapular). Dit klink absurd, maar dit is waar die idee vandaan kom. En oor dit alles het Aaron ‘n borsplaat gedra met twaalf kentekens wat die twaalf stamme verteenwoordig.

Wanneer die Hoë Priester vir iemand se tandpyn gebid het was die gebed gebring en die taak was afgehandel. Alhoewel, die borsplaat verteenwoordig ‘n las, die las van intersessie wat die Hoë Priester dag of nag nie kon verwyder nie totdat die geveg gewen is.

Wanneer iemand die las van ‘n intersessor dra dan is dit ‘n las wat op sy hart gaan rus totdat dit beantwoord word of totdat die geveg gewen is. Dit is wat die Here Jesus nou doen; Hy dra die las van Israel en diegene wat deel geword het van Israel deur die werke wat Hy as die Hoë Priester van die Nuwe Verbond aan die kruis gedoen het. Maar let op dat hierdie kleed van Aaron aan sy seuns oorgedra moes word.

Alle gelowiges het ‘n mate van geloof van God ontvang- en “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag ” (Heb. 11:16) Maar almal het nie die gawe van geloof nie, daar is ‘n spesiale gawe van geloof (1 Kor.12:9), mense wat intersessors is het hierdie Godgegewe gawe van geloof vir ‘n sekere rede- soos wat Jesus wil. Maar elke gelowige moet nogtans ‘n lasdraer wees, nie net vir Israel nie maar ook vir die kerk--en die wat verlore is.

Val in die Gees

“En toe ek Hom sien, val ek soos 'n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste.”(Ob.1:17)

Kontras dit met Sagaria 4:1: “En die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos 'n man wat uit die slaap opgewek word.”

Hierdie gebeurtenis wat geken word as “Val in die Gees” kom baie keer in die Skrifte voor waar mense in God se teenwoordigheid op hulle aangesig neerval. Die term kom van Openbaring 1:17 waar Johannes soos ‘n dooie voor die voete van Jesus neergeval het. Ons sien dit ook in Daniël 10.

George Whitefield was baie ontsteld toe dit in ‘n diens van John Wesley gebeur het maar ‘n paar dae later het dit ook in sy eie gemeente gebeur. Vandag egter het dit in die meeste gevalle ontaard in ‘n emosionele hipnotiese manipulasie waar mense omgestoot word. Natuurlik sal daar vervalsings wees, maar die ware gebeurtenis is Bybels, dit gebeur.

“En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.”

“Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.”

“Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

“Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!”

“En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het.”

“Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe--die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop--met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel? “Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan?”

“En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom? Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die HERE van die ganse aarde staan.” (Sag. 4:2-14)

Op ‘n manier reflekteer die fisiese tempel die waarheid van die hemel, en op ‘n manier reflekteer dit ‘n sekere waarheid oor die kerk. Dit is wat Openbaring probeer om bymekaar te bring, Sagaria 4 reflekteer die sewe kandelare (lampe) in Openbaring wat ook die sewe kerke is, en die twee gesalfdes sien ons weer in Openbaring 11. Mense sê hulle verteenwoordig Moses wat fisies gesterf het en Elia wat deur God opgeneem was; ander beweer dit is Moses en Henog, omdat Henog ook in die Hemel opgeneem is.

Dit is interessant dat die frase “seun van die mens” in Openbaring 1:13 voorkom. Waar dit in die Ou Testament voorkom leer dit ons iets oor Jesus. Daniël en Esegiël is tipes van Jesus.

Esegiël is ‘n hoof tipe van Jesus. En in Daniël 10:9 sê hy: “---en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval.” (Hy het ook geval)

Paulus skryf: “Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here. Ek weet van 'n man in Christus, veertien jaar gelede--of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit--dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.

En ek weet van so 'n man--of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit-- dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat 'n mens nie mag uitspreek nie. Want as ek sou wil roem, sou ek nie 'n dwaas wees nie, want ek sou die waarheid praat; maar ek laat dit ná, sodat niemand my hoër mag skat as wat hy van my sien of wat hy van my hoor nie. En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.” (2 Kor. 12:1-7)

Dit is duidelik Paulus praat van homself, dit het heel moontlik gebeur toe hulle hom gestenig het en hulle gedink het hy is dood. (Hand. 14:9) Dit was ‘n tipe van die wegraping, op ‘n manier was hy weggeruk na die hemel. Dit het ook met Sagaria, Elia, Esegiël en Henog gebeur.

Al hierdie Skrif gedeeltes vertel ons iets oor wat gaan gebeur: “---en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer- (Rapturo / Latyn—dit is waar die woord Rapture in die AV vandaan kom)- word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” 1Thes. 4:16-17)

Met die Verheerliking van Jesus op die berg (Mat. 17) het Elia wat nie gesterf het nie, en Moses wat gesterf het- en niemand weet waar sy graf is nie- skielik verskyn. Maar elkeen van hulle was in ‘n wit kleed van heil en heerlikheid geklee.

Of ‘n gelowige sterf of nie sterf nie, almal sal dieselfde wees. Wat gaan met hulle gebeur wanneer hulle sterf? Dit is die groot vraag wat Openbaring verduidelik. Op ‘n manier sal gelowiges wat al vir eeue “slaap” opgewek en opgeneem word om verewig by die Here te wees. Mense soos Paulus en Johannes het ‘n voorsmaak daarvan gehad—“Onuitspreeklike dinge”. (2 Kor. 12:14)

Die Getroue Getuie met ‘n Nuwe Liggaam.

Volgende is die konsep van die Getroue Getuienis... “ en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed.” (Op. 1:5)

Jesus word beskryf as “die Getroue Getuienis.” Maar in die Psalms... “Sy (Dawid se) nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My. Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde.” (U Messias) (Ps. 89:36-38) Maar in Openbaring word die getroue getuie beskryf as Jesus wat verwerp was maar wat lewe tot in alle ewigheid.

As ons in Openbaring na die Hemelse hof kyk dan kan ons sien hoe God hemelse of geestelike dinge gebruik om fisiese dinge te beskryf. “--en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.” (Op.1:15) Let op dat koper te doen het met oordeel.

“Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.” (2 Kor. 5:16)

Paulus sê wat Johannes gesê het, hy het Hom in Sy verheerlikte gestalte gesien. Johannes het Jesus intiem beter geken as enige ander dissipel; met die Laaste Nagmaal hy het met sy kop teen Jesus se bors gelê. Maar toe Johannes Jesus in Sy Verheerlikte vorm sien was dit vir hom soos die verskil tussen ‘n wurm en skoelapper. Na ‘n lewens klimaks in die dood in ‘n kokon, wat die graf simboliseer, het die wurm ‘n gedaante verandering ondergaan na ‘n pragtige nuwe skepping. Gelowiges is bestem om Jesus te volg. Eendag sal alle gelowiges net so pragtig wees soos ‘n skoelapper wat uit ‘n larwe gekom het. Wanneer hulle in die hemel kom en in ‘n spieël kyk gaan hulle hulself nie ken nie.

Redding, Gered en Weergebore.

Let op daar is drie aspekte van redding: Ek was gered, ek is gered, en ek gaan gered word.

En ook: Ek was weergebore, ek is weergebore en ek gaan weergebore word. Die vorige aspek van redding word “regverdiging” genoem.

Almal het gesondig deurom te lieg en te steel, ens. Maar hulle is geregverdig—hulle was gered – omdat Jesus die prys vir hulle sondes betaal het, en hulle het bely en hulle bekeer en Hom gedank en opgehou om dit weer te doen. Maar tans word gelowiges nog steeds gered en hulle word nog steeds geregverdig—aanmekaar elke dag—

“En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Luk. 9:23)

“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal. 2:20)

Elke dag in die lewe wat hulle nou lewe is hulle nog steeds gered. Die teenwoordige aspek van redding is “regverdiging.” En in die toekoms gaan hulle gered word. “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Mat. 24:13)

Dis is verlossing wat met die einde van die eeu sal plaasvind, ‘n toekomstige gebeurtenis.

“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” Luk. 21:28)

Kyk weer na die verbintenis tussen Genesis, Johannes en Openbaring en die herhaalde verskyning in die tuin en die “Boom van die Lewe.” Dit is hoekom die Boom van die Lewe in die Brief aan Efese genoem word. “--Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.” (Op 2:7) Wat in die Tuin verlore gegaan het sal terug gegee word.

Daar is ‘n drieledige parallelle gebeurtenis hier:

  1. Skepping- Dit was in Genesis.

  2. Nuwe Skepping—Dit is die Evangelie, ‘n nuwe lewe in Christus—nou.

  3. Herskepping—Wat volgens Openbaring sal gebeur.

Die drie gaan saam. Dit is waarom dieselfde figure, dieselfde simbole, dieselfde taal herhaaldelik in die Skrifte voorkom. Byvoorbeeld, wat sien ons in Openbaring 6:9? Die martelare onder die altaar roep uit, hulle is gedood as gevolg van die Woord van God en die getuienis waarvoor hulle gestaan het.

En wat is onder die altaar? Dit is waar die bloed afloop in die grond. Wat word uitgelig in Genesis? Abel se bloed roep uit die aarde. En in Johannes? Die bloed van Jesus vloei uit Hom op die grond.

Of ook- met die skepping in Genesis skei God die lig van die duisternis. In Johannes se Evangelie skei God die lig van die duisternis in die nuwe skepping. In Johannes se Evangelie het Jesus gekom as die Lig van die wêreld, maar die mens het die duisternis verkies omdat hulle dade boos was. (Joh. 3:19)

Onbekeerde sondaars verlang nog steeds na duisternis, en baie sonde word nog steeds onder die dekmantel van die duisternis gedoen. Maar God kan in die donker sien, Hy weet alles en sondes wat bely is- is uitgevee. Gelowiges moet leer om altyd in die Lig te loop. En laastens, met die herskepping in Openbaring is die Lam die lamp- en die heerlikheid van God is die Lig. (Op.21:23)

Wat Jesus vir die Efesiërs gesê het.

Daar is drie spesifieke dinge in die Brief aan Efese wat ons ernstig na moet kyk: Eerstens, valse apostels; Tweedens, hulle eerste liefde wat hulle verloor het; Derdens, die werke van die Nikolaïete.

Jesus was aan elke kerk voorgestel met sekere aspekte van die gesig wat die Goddelike Jesus aan Johannes in Hoofstuk 1 gegee het. Aan Efese, die kerk wie se naam “nie voortdurend” beteken, Jesus was beskryf as “Die Een wat tussen die sewe goue kandelare wandel”, en in Op.1:20 sien ons dit is die sewe kerke.

Op ‘n manier is Jesus in al hierdie kerke teenwoordig. Dit is belangrik- omdat Efese ‘n kerk was wat sy eerste liefde verloor het. Hulle skaar hulle by ‘n Griekse mentaliteit met die idee dat die hemel daarbo is en die aarde daaronder - afgeskei van die hemel, so- die mens is geskei van Jesus.

Efese moet daaraan herinner word dat Hy altyd tussen die kandelare, die kerke beweeg. Hy is altyd saam met die gelowiges al kan hulle Hom nie sien nie. Dit is merkwaardig dat Jesus altyd met woorde van lofprysing begin. (Paulus doen dit in sy briewe en dit is ook ‘n goeie beginsel vir ons.)

“Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.” (Op. 2:2-3)

Jesus beklemtoon hulle getrouheid en die feit dat hulle valse apostels nie kon verdra nie. Let op hoe Hy hulle prys omdat hulle hierdie mense op die proef gestel het.

“Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel.” (2 Kor. 11:2)

‘n Ware apostel se sentrale doel is om hom as ‘n reine maagd aan die bruidegom voor te stel— “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.”

Let op dat in Openbaring is daar ‘n slang en ‘n draak—Die twee vorms van Satan. Die draak vervolg die kerk en die slang verlei die kerk.--

“ Want as iemand kom en 'n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval. Want ek reken dat ek niks agterstaan by dié uitnemende apostels nie. En al is ek ook onbedrewe in woord, dan tog nie in kennis nie; maar ons het ten volle in alle opsigte openbaar geword by julle.” (2 Kor. 11:4-6)

Kyk wat sê Paulus: “As iemand kom en ‘n ander evangelie preek” Maar wat is ‘n “ander” evangelie? Let op dit wat gepreek word is grootliks reg, alles klink reg, die feit is, as dit nie reg geklink het nie sal dit nie mislei nie. Maar dit sal altyd die een belangrike waarheid waarop al die ander waarhede gegrond is verdraai, en dit is: Christus gekruisig, Christus kom weer. Dit is die absolute waarheid en al die ander waarheid moet op hierdie waarheid gebaseer wees.

Christus wat gesterf het, Christus wat opgestaan het- dit is die absolute waarheid. Jesus is die Waarheid: Ons het Die waarheid van die kruis, Die waarheid van die leë graf, en Die Waarheid van die Olyfberg waar Hy sal terugkeer. Al die ander waarhede moet op hierdie drievoudige waarheid gebou word.

As iemand enige ander waarheid vat, alhoewel dit ‘n waarheid is, en daarvan ‘n sentrale waarheid maak dan verdraai dit die drievoudige sentrale waarheid van Christus, Hy as die gekruisigde, en Christus, Hy as die opgestane, en Christus, Hy wat weer kom. Dit verdraai nie net nie, maar dit verduister ook, en dit wat verduister word– word uit die beeld weggeneem.

Ondersteuners van die valse voorspoed geloof het ‘n waarheid, maar hierdie waarheid is alleen geldig as jy daarna kyk in die lig van die hoof geloof: Die kruisiging, opstanding en die beloofde wederkoms van Jesus. ‘Hierdie mense beklemtoon nie n gekruisigde lewe nie, hulle het nie die ou lewe afgelê nie, in plaas daarvan vat hulle die miljoene vir hulleself! So word die sentrale waarheid vervang met ander waarheid en hierdie alternatiewe waarheid verander in ‘n leuen.

Daar is mense wat God se eindtyd doelwit vir Israel en die Jode aanvaar het, en dit is inderdaad ‘n waarheid, maar hulle het gegaan en van Israel die sentrale waarheid gemaak inplaas van Jesus. En wat gebeur? Die boodskap van die kruis word verduister.

Daar is organisasies wat dit hulle prioriteit gemaak het om die Jode terug te bring na Israel, hulle is lief vir hulle en seën hulle so goed as wat hulle kan, maar- hulle het ‘n belofte afgelê om hulle nie te evangeliseer nie. Kan jy jouself indink dat Petrus, Johannes of Paulus so iets sou gedoen het?

Valse Apostels

“Maar wat ek doen, sal ek nog doen om die aanleiding af te sny vir die wat 'n aanleiding wil hê, sodat hulle in die saak waar hulle op roem, net soos ons bevind mag word.” (2 Kor. 11:12)

Met ander woorde dit mense wat as apostels gesien wil word. Jesus sê vir diegene in Efese wat ore het- hulle moet luister. “Ek ken jou werke-- dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;” (Op. 2:2)

Paulus gaan verder en hy sê:

“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.” (2 Kor.11:13-15)

En wat is die konteks waarin Paulus praat? “’n “Ander evangelie”. Hulle het hulle oë van Jesus en die kruis afgehaal- die sentrale boodskap, en dinge het verkeerd begin loop. Elke valse apostel maak op die een of ander manier dieselfde fout. Hulle haal hulle oë van die sentrale waarheid af, Christus en Hom die gekruisigde, die Opgestane en Hy wat weer kom en hulle beklemtoon ‘n ander waarheid en maak daarvan die sentrale waarheid.

Ware Apostels.

Daar is tenminste vier soorte apostels in die Nuwe Testament. Eerstens en die belangrikste is daar Jesus self. “Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,.” (Heb. 3:1)

In Hebreërs en in Openbaring 1 word Jesus geken as die Hoë Priester. Maar in Grieks in Hebreërs 3:1 word Jesus beklemtoon as Die Apostel. Alle ander apostels kry hulle apostoliese gesag van Jesus af- “Die Apostel en Hoë Priester”.

Maar daar is drie ander tipes apostels. Eerstens was daar die oorspronklike twaalf, Jesus het twaalf aangestel (gemagtig)

“En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het..” (Lk. 6:13)

Dan was daar Paulus, hy was nie een van die oorspronklike twaalf nie, daar is mense wat vertel dat die apostels aanmatigend opgetree het toe hulle Matthías aangestel het, hulle moes vir Paulus gewag het, maar dit sou ‘n fout gewees het, kyk na Handelinge 1:21.

Toe Judas selfmoord gepleeg het- het hulle vir iemand gesoek om hom te vervang uit manne wat die hele tyd saam met hulle was toe die Here Jesus saam met hulle was, dit is vanaf die doop van Johannes. Die ander apostels was dissipels van Johannes die Doper en was heel moontlik deur hom gedoop voordat hulle dissipel van Jesus geword het. Paulus was nie.

So, daar was Jesus Die Apostel, die twaalf en die unieke geval van Paulus en laastens was daar manne soos Apollos en Barnabas wat in Hand. 14:14 ook apostels genoem was.

Die woord “apostel” beteken eenvoudig: ‘weg van sy pos’ of- “een wat gestuur is.”

Al soort apostel wat vandag in die kerk kan bestaan is kerkplanter sendelinge wat gestuur word deur hulle huiskerke. Waar kan die Bybelse model vir ‘n kerkplanter sendeling gesien word?

Handelinge 13, Paulus het geweet hy is ‘n apostel, God het dit vir hom deur Ananías in Damaskus gesê. “---hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.” (Hand. 9:15)

Paulus was geroep as ‘n apostel vir die Heidene. Maar let op wat gebeur. Paulus het eers sewentien jaar later met sy bediening begin toe dit deur die Heilige Gees in die gemeente bevestig is. Eers toe en na dit het die kerk hom uitgestuur.

Vandag is daar baie Christene wat aanspraak maak dat hulle apostels is, (Die “Here het vir my gesê” tipe) maar hulle moet kyk wat staan in Hand. 13.

Paulus het nie as ‘n apostel uitgegaan voordat dit nie in die gemeente en aan hom bevestig was nie, maar let op, het God net vir Paulus gestuur? Nee, die Heilige Gees het gesê.

“Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.”

Die Nuwe Testamentiese basis model vir kerkleiers is ‘n meervoudige stelsel. Al was Paulus ‘n kerkplanter sendeling was hy nog steeds gejuk en in onderdanigheid.

Mense wat vandag aanspraak maak op apostelskap is mense wat hulle eie koppe volg, outokrate op ‘n ego baan. Hulle mag miskien reg begin het maar hoogmoed en trots het hulle ingehaal. Baie kerke word vandag geken as so en so se kerk, dit is onbybels. Hulle staan nie onder gesag nie, hulle is nie onderdanig aan iemand nie. Paulus het altyd aan Antiochíë gerapporteer. Met leerstellige probleme in Handelinge 15 was hy onderdanig aan die gesag van die ouderlinge en die ander apostels, en hy het altyd Barnabas en Lukas saam met hom gehad, so was dit.

Daar is vandag baie kerkplanter bedieninge en predikers maar as hulle wettig is sal hulle Skriftuurlik optree. So, as jy mense sien wat hulleself apostels noem dan is dit ‘n Bybelse beginsel om hulle te toets of hulle ware apostels is. Jesus het die Efese gemeente geprys omdat hulle dit gedoen het.

Om jou Eerste liefde te verloën.

Die tweede ding wat Jesus vir Efese gesê het was dat hulle- hulle eerste liefde verloor het. Dit gebeur. Wanneer iemand tot redding gekom het dan dink mense om so ‘n nuwe gelowige dat hy of sy nie lekker is nie. Daar was ‘n geval waar ‘n nuwe gelowige aangekeer was omdat hulle gedink het hy was vol dwelms, hulle het sy geldkaart gebrand en hom uit sy privaat skool gesit en sy pa het dit goedgekeur, toe hy sy hart vir Jesus gegee het wou sy pa hom skiet!

Baie nuwe gelowiges dink hulle is die volgende Paulus, hulle mag miskien dom klink maar hulle het ‘n ywer. ‘n Kerk moet bedryf word deur die wysheid van die ou skape maar met die ywer van ‘n nuwe bekeerling. Maar helaas, vandag vat die lou warm kerk ‘n nuwe weergebore Christen en maak van hom ‘n lou warm Christen. Hulle het hulle eerste liefde verloor. Maar mense wat nog steeds hierdie geesdriftige eerste liefde het- intimideer ander mense deur die krag, blydskap en passie van die Heilige Gees wat in hulle is.

Die eerste eeu se apostoliese kerk word in baie gevalle gereken as die ideale kerk, en op ‘n manier is dit waar, maar die gelowiges in daardie tyd het ook maar hulle probleme gehad! Hulle probleme was in baie gevalle dieselfde as vandag.

Hipper-charismaties- Charismatiese ekstremiste, die Korinte tipe, mense in Thessaloníka met ‘n verdraaide idee van die Laaste Dae, wettiese Christene in Galásië wat reëls by die Evangelie wou byvoeg, dit het daardie tyd gebeur en dit gebeur vandag nog. Daar is niks nuut onder die son nie.

Maar waar het hulle probleme begin? Die manier waarop probleme nog altyd begin. Wat gebeur in ‘n huwelik? ‘n Persoon wat sy eerste liefde verloor!

Wanneer my vrou op my senuwees begin werk dan dink ek terug hoe ons hand aan hand op die Dooie See se strand geloop het, ek saam met hierdie Israeliese meisie waarvan ek nie my oë kon afhou nie—hierdie meisie wat ek in die strate van Jerusalem na Jesus gelei het. Ek onthou toe ek saam met haar by die see van Galiléa geloop het en vir haar van die basiese waarhede van die Bybel vertel het. Dit is die persoon op wie ek verlief geraak het en dit is die persoon, wat ek in my hart van harte nog steeds lief het. As jy getroud is, dink terug aan daardie tyd, en manne wees lief vir haar. Om jou eerste liefde te vergeet is ‘n natuurlike tendens, maar elke persoon is veronderstel om sy eerste liefde vir Jesus te onthou, dit is wat Jesus vir die Efesiërs gesê het.

Wanneer daar ‘n ware herlewing in ‘n kerk kom dan is almal vol lewe en vrees in die heiligheid van God- maar na ‘n tyd begin hierdie eerste liefde verflou- en wat gebeur na ‘n tyd?

Daar is twee dinge wat gebeur wanneer mense begin om hulle eerste liefde te vergeet:

  1. Die kwaliteit en kwantiteit van hulle gebeds lewe begin afneem.

  2. Hulle verloor hulle evangeliese ywer.

Hulle het nie meer dieselfde begeerte om vir mense te vertel wat Jesus vir hulle gedoen het nie. Baie mense se verskoning is dat hulle nie Evangeliste is nie. Ja dit is waar, almal van ons is nie evangeliste nie, maar almal van ons kan getuig. Jesus sê: “Julle sal My getuies wees” (Hand. 1:8)

Daar is niemand wat nie ‘n traktaatjie kan uitgee nie, of wat aan deure kan klop om ‘n verhouding vas te stel nie. Die Here Jesus het ‘n bediening vir elke gelowige, as jy nie weet wat dit is nie, vra Hom wat jy vir Hom kan doen. Daar is nie ‘n Christen wat nie geroep is om ‘n Christen getuie te wees nie.

Die werke van die Nikolaïete.

“Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat. (Op 2:6)

Laastens, Jesus het die Efesiërs geprys omdat hulle die werke van die Nikolaïete gehaat het wat Hy ook haat.

Die Bybel verklaar homself en die woorde “Nico” en Laite saam- beteken “onderdrukkers van mense” of “heersers van die leke”. Dit impliseer ‘n geestelike leiers klas soos die Levitiese priesters wat soos ‘n god oor hulle broers heers.

Voordat Satan heidense praktyke in ‘n kerk vestig gaan hy probeer om van hulle Jode te maak. Wat het in Galasië gebeur? Hulle wou die Griekse bekeerlinge besny, hulle het die evangelie van Jesus verkondig en dinge soos die besnydenis bygevoeg. Vandag is dieselfde, daar is die Sewende dag Adventiste wat glo jy mag nie op ‘n Sondag werk nie, hulle voeg ‘n gedeelte van die Wet by.

So, in plaas van ‘n priesterorde van alle gelowiges het die Nicolaïte gegaan en ‘n ander priester orde saamgestel, ‘n heersende klas. Dit kom uit ‘n gedeeltelike Gnostiese invloed met die idee dat daar ‘n spesiale geheime kennis of krag aan sekere spesiale uitverkose of geleerde mense gegee is. Ja daar is leiers; ja daar is ouderlinge, apostels, profete, evangeliste, leraars, daar is herders, bewaarders van ons siele, en- dank God daar is. Maar ‘n uitverkore “priesterorde”? Heersers oor die laite- leke? Moet ons hierdie mense verdra? Is daar geen redding vir iemand wat nie onder die gesag van hierdie mense wil staan nie? Dit is wat hierdie leiers wil hê en die gewone mense moet dit glo!

Wanneer mense op ‘n een of ander soort apostoliese gesag aanspraak maak en ‘n vermoë het om mense se lewe te beheer, dan is daar net een oplossing en dit is: Toets hulle!

Voldoen hulle aan die Bybelse voorskrifte van ‘n apostolies gesag? Is hulle self gebonde en onder gesag soos Paulus en Barnabas, rapporteer hulle terug aan Antiogië of ontmoet hulle ander apostels en ouderlinge in Jerusalem om sekerheid te verkry oor die evangelie wat hulle verkondig? Of is hulle Nicolaïte? Jesus sê baie duidelik Hy haat hulle werke.

Wanneer daar ‘n Nikolaitiese priester orde of priesterskap ontwikkel dan gaan mense uitgesluit word en hulle gaan geestelik en sielkundig seerkry.

In Ierland is daar ‘n priester in elke dorp, maar dit is ook ‘n land met die hoogste alkoholisme en skisofrenie getalle in die wêreld. Maar dit word ook in nuwe kerke gesien. Dit wat hulle “Apostoliese gesag noem—al is dit van ‘n pous of ‘n swaarhand pastoor of predikant—kan ook ‘n teken wees van ‘n Nicolaït.

Samevatting

Dit moet elke gelowige se hartsbegeerte en gebed wees, dat die kerk van ons dag sal terugkeer na haar eerste liefde. Wanneer ons Jesus weer sal liefkry soos toe ons tot bekering gekom het, en ons weer sal glo soos ‘n kind, en Hom altyd so sal liefhê, dan kan niks verkeerd gaan nie. Hy sal die wat Hom so liefhet bewaar.

Jacob Prasch

11/2012

1ste >>> 5de Eeu-----Apostoliese kerk---Pre-Nisiaanse Kerk----- 4de >>> 12de eeu------Opkoms van die Institusionele Kerk---- 11de >>> 16de eeu------Die Donker Eeue----

15de >>> 18de eeu------Die Reformasie--- 17de >>> 20ste eeu----Groot Ontwaking----

20ste eeu>>> Die Afvallige Kerk>>>

You are here:

Sermons in Afrikaans